Wednesday 28 November 2012

Peponi Beach Resort

23 - 28 November 2012
Van Dar Es Salaam verrtrek ons na Peponi Beach Resort by Pangani.  www.peponiresort.com/
Dar Es Salaam is 'n lewendige en interessante plek, maar dit raak nou weer tyd om aan te skuif.  Ek het my eerste "fine" ook gekry.  Slimmie besluit mos om 'n "U-Turn" in die stad te maak.  Die copper kon nie breed genoeg smile nie. Het hom darem afgestry van 60 000 TSH (tanzanian shillings) na 20 000 TSH.
Die pad na Peponi is heel voorspoedig en ons het laatmiddag hier aangekom.  Sjoe, wat 'n plek!  Ons soek al vir 'n paar 1000 km's na 'n plek soos die een.  Dis by die see, 'n bietjie weggesteek en nie so baie toeriste nie.  Die locals doen hul eie ding en pla mens nie te veel nie.  Die prys is ook baie billik:  $5 pppn + $1 vir krag = $11 vir ons tweetjies.  Hulle het ook 'n restaurant en die pryse lyk billik.  Ons gaan ons laaste aand daar eet.
Die volgende dag is ons uit op hulle dhow, "PEPI" en dit was fantasties.  Hulle maak kos vir ons en ons snorkel en sien baie mooi goed.  Die aand het ons 'n 2,5kg tuna by die locals gekoop en ons gooi hom op die kole. LEKKER MAN LEKKER.





















Tuesday 27 November 2012

Dar Es Salaam

19 - 22 November 2012
Na Selous vertrek ons na Dar Es Salaam.  Sjoe, die verkeer is erg!  Die SA taxi’s is nie ‘n patch op hoe hulle hier ry nie.  Meeste robotte werk nie, en almal ry oor soos wat hulle wil.  Tussen dit alles is daar busse, motorfietse en fietse.  Dit is absolute chaos.  En dit beteken dat dit soveel langer neem om by ‘n plek uit te kom. 

Ons het op die GPS gesien van ‘n sentrum met ‘n Game en Shoprite en natuurlik direk soontoe gery.  Was dit nou lekker!  Nie ‘n  groot sentrum nie, maar die Game en Shoprite is presies soos in SA – tot dieselfde plastieksakke.  Boney M se Christmas Carols het in Shoprite gespeel – oooo, dit was lekker! 

Oppad terug van Dar Es Salaam het ons kortpad geneem met ‘n ferry wat ons 2km oor die baai neem, in stede van om 30km om die stad te ry, want ons kamp in die suide van die stad.  Daar is twee ferries – hulle loop die hele dag om mense en voertuie oor te neem van verskillende kante, so dit gaan vinnig.  En net voor ons daarop gaan, breek die groter ferry en ons moet lank wag, want toe is daar net een ferry.  This is Africa!

Jors het vir ons skaapvleis gekoop in Shoprite en gebraai.  Dit was die taaiste vleis wat ons nog ooit geeet het.  Het ook ‘n blokkie kaas gekoop en braaibroodjies gemaak, so ons is goed bederf.  Daar was nog braaibroodjies oor vir die volgende dag.  Ons het nou genoeg blikkieskos om ons vir ‘n lang ruk te hou.  Dink nie ons sal gou weer sulke lekker winkels kry nie.

Ons slaap by Kipepeo campsite. http://www.kipepeocamp.com/campsite.html

Vanaf Selous het ons ander mense ontmoet wat ook toer.  Hier is ‘n couple van Holland wat met hulle bikes deur Afrika toer.  Weet nie hoe die vrou dit doen nie – met die verkeer in die stede is dit rof.  Ook ‘n ouer Duitse couple en ‘n Ierse couple, omtrent ons ouderdom.  ‘n Mens kry kans om ‘n rukkie te gesels so tussen die kosmakery en tentopslaan deur.  Almal het gedrukte kaartjies (soos besigheidskaartjies) met hulle name en kontakbesonderhede.  Sjoe, ons is bietjie uit!

  Die charcoal word in die villages gemaak en dan in die groter dorpe verkoop.


                                                                    'n Matras op 'n motorfiets - no problem!


                                                                   Ingedruk op die ferry...


                                                                   Kipepeo Beach Camp




Wednesday 21 November 2012

Selous Bewaringsgebied

Vanaf Kilwa kom ons veilig aan by Selous River Camp (http://www.selousrivercamp.com).  Dit is 'n kamp buite die Selous Wildreservaat (http://en.wikipedia.org/wiki/Selous_Game_Reserve). Die kampplek is regtig goedkoop - $5 of 16000 TSH (Tzn Shillings) of R45 pppn.  Die kamp het uitstekende geriewe en ons is baie in ons skik.  Die kampplek is tussen dik bosse en daar is baie insekte.  Jy skyn nie sommer 'n lig in die pot nie, dan kry jou tuna en rys nog 'n bietjie protein by.  Daar is gewapende wagte in die nag om ons teen olifante en wilde diere te beskerm.  Ek het met die wag gepraat en toe gesien dis maar 'n .22...  Yeah right.  Dit sal ons nou beskerm teen 'n moeilike olifant.
Die volgende oggend is ons lekker vroeg op om die park te besoek.  Die ingang is baie duur - $180 vir ons 2 en die bakkie.  Hierdie is nie regtig 'n park nie, maar 'n bewaringsgebied.  Dit beteken daar is nie heinings nie en jy kan ry waar jy wil.  Ons probeer maar in ou spore bly om ons impak te verminder.  Ons begin gou agterkom dat hierdie 'n baie spesiale park/bewaringsgebied is.  'n Mens voel jy is meer in die wildernis as in 'n park.  Dit het die vorige 2 dae gereen en ons sien nie baie wild nie, maar ons geniet dit verskriklik.  Die gebied is groot en ons sal graag nog 'n dag hier wou deurbring, maar met daai toegangsgeld is een dag genoeg.