Saturday 22 December 2012

Serengeti

3 & 4 Desember 

Teen 7h30 is ons oppad na Klein’s hek, die noordelike ingang van die Serengeti – nog ‘n 150km verder.  Dit reen en als is papnat.  Die pad raak ‘n 4x4 roete.  Ons ry 5.5 ure aan die 150km! By die hek betaal ons $400(!) vir 2 nagte.  Ons ry verder noord tot ons nie meer kan nie, want die park grens teen Kenia – tot 2 grade van die ewenaar.  Daar is groot troppe zebras, baie olifante, ‘n verskeidenheid pragtige voels en baie Tsetse vliee.  Ons moet die ruite toehou, want die vliee steek seer en kan skadelik wees – meer as sewe byte kan blykbaar slaapsiekte veroorsaak.  Dankie tog vir aircon!
Teen 17h00 is ons by die Lobo publieke kampterrein.  Die kamp is nie omhein nie en ons is hierdie keer die enigste kampeerders.  Drie buffels le sommer naby ons.  Hulle lyk darem heel rustig...  By die badkamer hou ‘n groterige koggelmander wag – blou en pienk!  Ons stort in die koue water voor dit donker word en maak kos in ‘n groot geboude vertrek (‘n kombuis vir die gidse/chefs wat vir die toeriste kosmaak).  Ons eet kos uit blikkies, maar is eintlik lus vir brood.  In Mosambiek kry ‘n mens oral vars Portugese rolletjies te koop.  Die Tanzaniers verkies om die deeg in olie te bak.  Eenkeer het ons langs die pad van die oliebolle gekoop.  Daar was nie ‘n deksel oor die bak nie, en daar het sandkorrels op die bolle beland - nie so aangenaam nie!  Terwyl ons eet besluit ons dat ons more by die hoofkamp se restaurant vir ons gaan bederf met ‘n regte koppie koffie en ‘n lekker eier & bacon toebroodjie.  Min wetende dat daar nie ‘n restaurant by die hoofkamp is nie!  Ons slaap die nag lekker tussen die buffels.
Die volgende oggend terwyl ons koffie drink is daar 3 klipspringers op ‘n rots in die kamp, 5 buffels om die kamp, ‘n paar zebras en 10 arende wat stadig bo ons sweef.  Awesome!  Oppad na die hoofkamp, Seronera, spot Jors twee cheetahs!  Ons sien twee keer leeus. Ook gekleurde bokke, die Topi.  Ons koop ‘n paar samoosas en sout oliebolletjies (sandloos) by die enigste kiosk van die besoekersentrum.  Ons lus nogsteeds ‘n snytjie “best of both” brood.
Ons kamp weer in ‘n publieke kamp, Timbila, in die hoofkamp.  Hier is baie toergroepe.  Weereens mag voertuie nie op die kampterrein gaan nie en ons kamp in die parkeerarea tussen die safari voertuie.  Vroegaand is daar geen diere in die kamp nie, maar in die nag sluip ‘n hyena rond.
Teen 5h00 word ons wakker van toergroepe wat opstaan en regmaak om 6h00 te gaan wild kyk.  Ons ry in ‘n westelike rigting na die Ndabaka hek, oppad na Lake Victoria.  Ons sien ‘n groep love birds!   Wonderlik om die reenboogvoels in die natuur te sien.
Dit was ‘n voorreg om die Serengeti te sien:  Lobo, met heuwels en rotse, Seronera met groot, oop vlaktes en Ndabaka wat op die oomblik groener as die res van die park is en dus meer troppe wildebeeste, buffels en zebras het. 




































Karatu & Lake Natron

 1 & 2 Desember
Die bakkie bring ons veilig tot by Karatu, die dorpie net buite Ngorongoro.  Daar kamp ons by Kudu Lodge.  Dit het storte met warm water en Westerse toilette - heerlik!  Na ‘n goeie nagrus kyk Jors na die bakkie.  ‘n Washer op die shock is stukkend en dis wat die geraas veroorsaak het.  Gelukkig nie die shock nie!  Jors bel in elk geval vir skoonpa Jacques en vir Alan en albei beveel aan dat die olie afgetap word (agv ‘n ander klein probleempie wat opgeduik het). 
Ons besluit om by die noorde van die Serengeti in te gaan, verby Lake Natron.Anders moet ons weer $140 betaal om deur Ngorongoro te ry.So meskien 'n bietjie geluk by die ongeluk.  Die meer is noordoos van Ngorongoro.  Dit is ‘n sout meer, 58km lank, maar net 50cm diep.  Die rowwe pad loop deur die Great Rift Valley gebied – ‘n pragtige landskap met berge en kraters.  Hierdie is Maasai wereld.  Oral loop jong seuns (skat so tussen 7 en 11 jaar oud) in hul helderrooi doeke met troppe bokke, beeste en somtyds skape.  Lyk indrukwekkend teen die groen en bruin landskap.  Hierdie gebied is afgesonderd en ons sien geen ander voertuie nie.  Vir die eerste keer het ons nie selfoonontvangs in Tanzania nie.
Dit neem ons vier ure om die 150km te ry.  Ons kamp die aand by Moivaro Camp, wat deur die Maasai bestuur word.  Die kampplek is pragtig met groen gras oral.  Jors kry kans om die bakkie se olie af te tap.