Monday 14 January 2013

Palm Beach - Liwonde - Blantyre

3 - 7 Januarie
Na Chembe Eagle's Nest is ons oppad na die suide van Malawi.  Ons eerste stop is by Palm Beach http://www.palmbeach-mw.com/ waar ons oornag.  Die aand besluit ons om by die restaurant te eet.  Ons kry voorgereg, hoofgereg en kaaskoek vir nagereg.  'n Heerlike bederf!  Die oggend eet ons sommer ontbyt ook daar.

Vandaar vat ons die pad na Liwonde Natuurreservaat.  Ons bly by http://www.bushmansbaobabs.com/.  Gou kom ons agter hierdie is 'n baie spesiale plek.  Elke kampplek het sy eie stort en toilet.  Die kamp is in die reservaat, en die seekoeie en olifante loop snags daar deur.  Die middag gaan kyk ons na olifante oorkant die rivier.  Die aand bad daar 'n klompie van hulle in die rivier.  Ons plan is om more deur die kamp te ry.  Hier is oor die 600 olifante en 'n klomp swart renosters.  Ongelukkig begin dit in die nag erg te reen.  Dit reen die hele nag en die volgende dag.  Ons lê maar laag deur die dag en so elke nou en dan wanneer dit ophou reen, loop ons in die kamp rond.  Ons besef dat die reenseisoen begin het en om in die natuurkampe in die modder te gaan vassit klink nie nou na pret nie.  Ons gee die park maar vir eers 'n "skip".  Ons moet darem iets los vir volgende keer!

 Ons volgende stop is die Zomba plato, maar ons gee dit ook 'n mis, want dit reen nou katte en honde en ons maak ons weg na Blantyre.  Hier bly ons in die http://gracebandawehotel.com/index.html. Baie netjies en billik.  Blantyre is ook 'n groot stad, so nes julle gedink het is ons eerste stop by Shoprite en Game.  Ons doen weer lekker inkopies en slaap nog 'n dag in die hotel.  Dit reen aanhoudend en ons besluit om aan te beweeg na Mosambiek.




















Lilongwe, Cool Runnings & Chembe Eagle's Nest

26 Desember 2012 - 2 Januarie 2013
 
Nadat ons lekker ontspan het by Makuzi, vat ons die pad na Lilongwe.  Dit is die hoofstad van Malawi en ons het 'n paar goed nodig.  Daar is 'n Shoprite en 'n Game.  Mari se stoel is flenters so ons koop 'n nuwe een by Game.  Ons het die vorige aand by die Lilongwe gholf klub gekamp.  Na die shopping vertrek ons na Cool Runnings in Senga Bay.  Oppad uit Lilongwe ry ons verby 'n SPUR.  Hee-Ha!  Ons verorber elkeen 'n Cheddamelt Spur Burger.  Man, dit was nou lekker!  Ons magies bars amper van 'n gewone enkelburger.  Waar is die dae toe ons 'n double burger kon wegsit.

Cool Runnings is 'n baie spesiale plek.  Samantha, die vrou wat dit bestuur, is 'n verpleegster en sy sien om na die dorp se mense.  Die oggend het sy juis een van die locals behandel en daarna het die kampeerders met hul skete in 'n lyn gesit sodat sy hulle kon help.  Wens ons het 'n foto geneem...  Ek het nog 'n ou wond aan my toon waar 'n putze vlieg 'n larwe gelê het en die toon is nog 'n bietjie ontsteek.  Lekker suf, nê.  Afrika is nie vir sussies nie!  Ek dink ek raak 'n sussie - HEHE.  Sam spuit die toon met Terramycin.  Dis sulke pers goed wat hulle op koeie en perde spuit.  Dit brand baie!

By Cool Runnings kry ons 'n paar mense wat ons by Makuzi ontmoet het en ons besluit om almal nuwejaar na Cape Maclear te gaan.  Daar kry ons kampplek by Chembe Eagle's Nest http://www.chembenest.com/.  Al die kampplekke is nogal besig - dis immers vakansie en nuwejaar.  Ons kry 'n kampplek op die strand en ons swem en snorkel lekker.  Nuwejaar maak ons pot en kuier met die Europeërs.  Daar is 'n lekker dansbaan en ek en Mari skoffel die nuwejaar binne.  Teen middernag is daar 'n awesome vuurwerkvertoning op die strand.  Na die nuwejaar herstel besluit ons dis weer tyd om te skuif.

Lilongwe Gholf Klub
Cool Runnings Kampplek
Lui lekker lewe - Cool Runnings

Uit die tuin - Cool Runnings

Chembe Eagle's Nest






'n Monitor lizard - oor die 1 meter lank














Sunday 13 January 2013

Makuzi Beach Lodge

18 - 25 Desember

Ons besoek Makuzi Beach Lodge http://www.makuzibeachlodge.com/ op aanbeveling van ander reisigers wat ons ontmoet het. (Allison en Richard).  Dit is so 225km van Chitimba Kamp.  Na Livingstonia is dit 'n teerpad, so die kilo's loop lekker glad.  Ons stop by Mzuzu om nog voorrade te koop.Dis 'n lekker groot dorp en ons kry al die nodige daar.  

Makuzi is 'n asemrowende plek.  As 'n mens net een plek in Malawi kan besoek, dan moet dit die plek wees.  Dit het sy eie private strand en die sand is soos poeier.  Mens dink jy is by die see en nie by 'n meer nie.  Ons is ook aangenaam verras toe ons 'n CY bakkie sien.  Die bestuurders van Makuzi is van die Paarl en dis lekker om weer Afrikaans te kan praat.

Hulle probeer dit regtig spesiaal hou deur net 5 of 6 kampplekke te he.  Ons is gelukkig om 'n plekkie te kry en besluit om hier te bly vir Kersfees.  Ons ontmoet heelwat mense hier.  Daar is 2 SA families wat hier vakansie hou.  Ons ontmoet  ook 'n Switserse couple, Johan en Irene, met wie ons lekker oor die weg kom.  Hulle het al die pad van Switserland tot hier gery.

Een van die SAners word siek voor Kersfees.  Ons het antibiotika vir hom gegee en sy vrou gee toe vir ons 'n hele pak skaaptjops.  Wat 'n groot treat!  Kan nie onthou wanneer laas ons 'n skaaptjoppie geproe het nie...  Ons het die pak in twee gedeel - een deel het ons gebraai en die ander deel het ons pot mee gemaak op Kersdag.  

Daar is donderstorms elke oggend en dan trek dit oop en die dag is pragtig.  Ons het een oggend op 'n toer gegaan (Johan en Irene is saam) deur die village naby die kampplek waar ons van die onderwysers en kinders ontmoet het en meer geleer het oor die kultuur van die Malawiers.