Friday 21 December 2012

Kilimanjaro & Ngorongoro krater

Moshi, Tanzania – 29 November

Van Pangani aan die kus vertrek ons na die binneland op die besige noordelike toeriste roete.  Op hierdie roete is die berg Kilimanjaro, die Ngorongoro krater en Serengeti. 

Oppad moet ons omtrent koes vir die Tanzaniese busse wat die locals vervoer.  Een bus ry amper die bakkie se regter spieeltjie af!

Moshi is ‘n pragtige dorp aan die voet van Kilimanjaro.  Die weer is heerlik koel na die bedompigheid van die kus.  Ons kamp by die Honey Badger, net ‘n paar kilometer voor die dorp.  In Moshi is ‘n Indiese winkelgroep waar ons kruideniersware koop – weer op die maat van Boney M se kersfees cd.    

Kilimanjaro – ons sien die hoogste berg (5895m) in Afrika so 50km voor Moshi.  Die bopunt is toe onder wolke.  Teen 18h00 die aand is ‘n klein stukkie oop en ons neem foto’s.  Ons staan die volgende oggend vroeg op want die locals vertel dat dit die beste tyd is om die berg in sy volle glorie te sien, maar die bopunt kruip nou heeltemal weg onder die wolke...  Ons gaan maar ‘n poskaart koop! 

Oral in Tanzania, maar veral in die Noorde, verkoop die locals rooi uie en tamaties langs die pad.  Aartappels, komkommers en green peppers kan op sommige markte gekoop word, as dit daar naby geplant word.  



Ngorongoro krater – 30 November

Ons ry  van Moshi na Arusha, so 80km verder.   Arusha is `n groot toeriste dorp met ‘n lughawe.  Of jy nou Kilimanjaro wil klim of die Serengeti besoek, jy sal een of ander tyd by Arusha draai.  Van hier neem safari voertuie die toeriste na hul bestemmings.  Safari voertuie is Land Cruisers wat omskep is om 2 tot 6 passasiers te vervoer.  Elke voertuig het ‘n gids wat na die toeriste omsien – vervoer, verblyf en etes.  Ons het nie besef dat dit so ‘n groot besigheid is nie.   In Ngorongoro en die Serengeti vind die Tanzaniers dit vreemd dat ons met ons eie voertuig ry.  Die plekke is ook nie ingerig vir toeriste wat selfversorgend is nie.  Daar is geen winkels of restaurante by die hoofkampe nie.  Niks.   Alle etes en verblyf in tente word voorsien deur die safari voertuie en dit word van Arusha gebring.  Daar is ook toeriste wat verkies om in lodges in die parkte te bly.   Die safari voertuie neem al hierdie toeriste (van die kampe en die lodges) op wildsritte.  Dis glad nie soos die Kruger Wildtuin nie!

Vandat ons Arusha uitry begin ons Maasai mense sien wat in hul rooi klere troppe beeste oppas in oop grasvelde langs die pad.  Hulle is ‘n half nomadiese volk wat rondbeweeg tussen Tanzania en Kenia deur die Serengeti en Maasai Mara Wildsparke.

Die Ngorongoro toegangsgeld moet by ‘n bank in Arusha inbetaal word, want kontant word nie by die ingangshek aanvaar nie.  Die toegangsgeld is $400 (R3600)!  Dit sluit in $200 om die krater te besoek, $60 om te kamp en $140 vir die permit wat geldig is vir slegs 24 uur.   Dis ‘n stywe klompie geld, maar ons byt vas – ons is dan nou hier.

Ons kamp die aand in die Ngorongoro publieke kampterrein, Simba A.  Simba beteken “leeu” in Swahili (die amptelike taal in Tzn en Kenia).  Die kamp is glad nie omhein nie en omdat dit so hoog geleë is (ongeveer 2300m bo seespieel), is dit koud – ons dra sweetpak tops!  Die kampterrein het ‘n pragtige grasperk, maar voertuie mag nie daarop staan nie, slegs tente.  Ons slaap in die daktent en moet dus op die grondpad parkeer, op die rand van die kamp.  Die kampplek het net Oosterse toilette – hurk toilette – wat heel goed werk, behalwe dat die beenspiere lekker styf is die volgende oggend!  Dis baie vreemd dat hier net Oosterse toilette is, want daar was nie een Oosterse kampeerder nie?!?

Teen skemer, net toe ons wil begin met die kos, duik twee groot olifante naby ons op.  Hulle het rustig verby gestap.  Ons was maar lekker benoud!  Net voor ons gaan slaap, sien ons ‘n hiëna.  In die nag, vroegoggend, hoor ons ‘n harde gekouery.  Toe ons uitkyk is dit ‘n buffel wat gras vreet tussen ons tent en die badkamer!  Ons hoor ook leeus in die verte...  Daardie nag slaap ons maar lig. Dankbaar vir 'n daktent!

Ons vertrek 6h30 die oggend na die krater.  Die pad daarheen loop deur ongelooflike groen velde waar Maasai woon en hul vee hou.  Ons is veronderstel om ‘n gids saam te neem in die krater, maar daar is nie plek in die bakkie nie.  Gelukkig is dit ook nie werklik nodig nie, want die krater is nie so groot nie (‘n deursnee van 20km en ‘n kraterrant van sowat 600m).  Soek net die safari voertuie en jy weet waar die leeus is!

Die krater is ongelooflik.  Ons spandeer omtrent 6 ure daarin en sien baie wildebees, zebras, Thomson gazelle, Grant gazelle en 10 leeus.

Ons moet jaag om by die hek te kom voor die 24 uur verstryk.  Die pad is baie sleg – dis sinkplaat, maar baie dieper. Na 'n gejaagery op die sinkplaat begin die Hilux siek klink.  Erens is 'n skroef los.  Ons draai maar om en gaan terug suid om die fout te soek....
































No comments:

Post a Comment