Sunday 13 January 2013

Malawi - Chitimba Kamp

14 - 17 Desember

Na 'n baie dol pad kom ons laterig die aand by Karonga in Malawi aan.  Alles het goed gegaan by die grenspos.  Ons slaap in die Safari Lodge Annex en alles is skaflik.  Ons eet van hulle kos en dis heel aangenaam.  'n Paar manne was die bakkie vir 1000 kwachas.  Dis omtrent R30.  Hy was baie vuil so dis 'n bargain.  Die volgende oggend eet ons ontbyt wat ingesluit word by die prys.  Heel goed.  Daarna vertrek ons na Chitimba Kamp (http://www.chitimba.com/ ) wat so 90 km verder is.  Malawi is 'n klein land so vir die volgende maand gaan ons seker nie meer as 900km ry nie.  Sjoe, nou kan die petrol "budget" begin beter lyk!
Chitimba is 'n baie mooi plek.  Ons is die enigste mense daar en kan nie wag vir die rustigheid en stilte nie.  Ja right!  Later die dag hoor ons die gedruis van diesel lorries.  Dis die overlanders.  There goes the neighbourhood.  Dis almal 'n klomp jong mense en heel aangenaam, maar moet elke trok nou sy eie musiek speel?  Ons troos onsself daaraan dat ons nie te oud is nie en maak maar of ons dit geniet.  Al sit ons met oorpluisies.
Die volgende dag maak ons 'n lekker oxtail pot met BAIE peri-peri.  Na die pot voel ek nie te lekker nie en dog dis maar die warm goed.  (Ek moes darm 'n paar biere sluk om die Peri-Peri af te kry).  Daai nag skrik ek wakker met die grootste hoofpyn wat ek nog ooit gehad het.  Ek het ook koors en begin bekommerd raak.  Hier by 1 uur in die oggend voel ek net al hoe slegter en ek en Mari besluit dit kan net malaria wees.  Ongelukkig het ons nie 'n test kit nie, maar besluit om dadelik met die behandeling te begin.  Dit was die aakligste 24 uur wat ek in 'n lang tyd gehad het, maar gelukkig was my "nurse" tops en die ou dak "fantjie" was "great".  Na so 'n paar dae van herstel skuif ons aan na Makuzi Beach.  Ons neem die "scenic" roete wat deur Livingstonia loop.















No comments:

Post a Comment