Sunday 12 August 2012

Transkei

Op Maandag, 6 Augustus verlaat ons Morgan Bay en gaan met die pont oor die Keirivier by Keimond.  Ons wou oorslaap in Mazeppabaai maar vind toe uit dat daar nie kampplekke is nie, slegs ‘n hotel.  Ons besluit toe op Dweza Natuurreservaat, ‘n entjie aan.  Die Transkei bestaan uit heuwels, gespikkel met rondawels oral.  Ons moet uitkyk vir beeste, bokke, skape en varke.
Dweza Natuurreservaat is pragtig.  Hier is geen krag nie, maar darem ‘n gas geyser vir warm water.  Die weer is nie so wonderlik nie –sterk wind en effense reen.  Teen die aand kom wei ‘n bokkie naby ons tent en daar is apies in die bome wat mik om ons kos te vat.  Die volgende oggend ry ons na ‘n pragtige riviermonding.  Teen laatmiddag begin dit erg reen.  Ons slaap twee aande daar.
 







 
Woensdag is ons na Koffiebaai en Hole-in-the-wall.   Wanneer ons deur die villages ry kom kindertjies uitgehardloop en skreeu: “sweets!”  Koffiebaai is klein – ‘n baai met ‘n paar backpackers en klein gastehuise.  Ons ry na Hole-in-the-wall en omdat die wind verskriklik sterk waai, bly ons in ‘n backpacker rondawel by die vakansieoord.  Die rondawel het ‘n stort en dubbelbed.  Geen kombuis of ketel nie, maar ons dra die gasstofie in.   Die oggend toe ons wakker word is dit windstil en kon ons die dreuning van die “hole” hoor.  







Donderdag is Vrouedag.  Ons ry na Port St John – ‘n klein dorpie in ‘n pragtige omgewing (met ‘n Superspar).  Ons koop groceries en eet middagete langs die pad.  Daarna na Mbotyi Bay Camp Site via Lusikisiki.  Die weer is goed en Jors kan vir ‘n slag weer braai!  Ons het weer internet ontvangs en sien nou eers hoe koud dit reg oor die land was met sneeu in Gauteng!




Vrydag besoek ons die Magwa waterval naby Mbotyi Bay en ry deur groot teeplantasies.  Daarna val ons in die pad na Port Edward, ongeveer 180km verder.  Dit is die eerste dorpie oor die Kwazulu Natal grens.  Ons bly in die TO Strandoord (Teachers/Onderwysers), ‘n 4 ster vakansieoord, op aanbeveling van ‘n man wat ons in Jeffreysbaai daarvan vertel het.  Hier besluit ons om ‘n week te bly sodat ons lekker kan afpak en die roete verder beplan.  



No comments:

Post a Comment