Wednesday 21 November 2012

Tanzania. Masasi tot Kilwa Masoka

Donderdag 2012/11/15
Tanzanie is ‘n pragtige land.  Geniet dit sover meer as Mosambiek.   Die plantegroei is meer African (digter met baie meer kremetartbome - ongelooflik).  Dit klink asof die mangoes binne ‘n week of twee ryp sal wees, so sien uit daarna.   Die lewenskoste is ook goedkoper as Mosambiek, wat natuurlik baie help.  Meeste mense praat Swahilli.  Daar is nie baie mense wat Engels praat nie, maar as ‘n mens geduldig is, vind ‘n mens tog iemand wat kan help.  Ons het vanoggend omtrent gesoek na iemand wat kan help om die nuwe Tzn Vodacom sim kaart te rica (dit moet hier ook gedoen word)!  Gelukkig het ons nie bewys van adres nodig gehad nie...

Ons moes ons horlosies een uur vorentoe stel in Tanzanie.  Dis eintlik ‘n goeie ding, want ons was elke oggend 5 uur op omdat die son so vroeg opkom.  Nou is dit 6 uur as ons wakker word. :)

Het gister vir Jors gevra of hy al iets van SA mis:  Hy sal nogal ‘n Spur  burger waardeer.  Ek sal ‘n toilet waardeer wat spoel wanneer dit getrek word en wat ek nie hoef te deel met geitjies, muskiete en ander vreemde goggas nie.

Die eerste aand in Tanzanie het ons in die binneland geslaap by Masasi in 'n motel en daarna vertrek na Kilwa Masoko waar ons twee aande gekamp het.  Die grondpad was rof en die trokke en busse jaag.  Ons moes oor drie van die houtbrue gaan (sien foto), net soos die busse en trokke...
Hier ontmoet ons die eerste Maasai mense.  Hier is vyf wat die kamp se sekuriteitswagte is.  Die Maasai is ‘n klein, nomadiese volk wat met hulle beeste tussen Tanzanie en Kenia beweeg oor die grens en ook deur die Serengeti Nasionale Park.  Hulle dra rooi doeke en daar word vertel dat selfs leeus bang is vir hulle.  Hierdie by die kamp is nog jonk – seker so 20 jaar oud.  Hulle word seker maar weggestuur om te gaan werk vir geld.  Daar is ‘n foto van hulle sandale.  Hulle maak dit van ou tyres, so die onderkant van die sole is ‘n tyre patroon.

Die bakkie het gister, nadat Jors petrol ingegooi het, erg begin rook en backfire.  Hy het vanoggend met Pa gesels en dit klink asof dit vuil petrol is. Gelukkig het ons nie gister volgemaak nie, want ons was nie seker hoeveel ons sou kry vir die Tanzaniese geld nie.   Jors het vandag die bakkie volgemaak en die probleem is gelukkig weg.  Ons sal nou die petrolfilter wat hy ingepak het, moet gebruik.  Blykbaar meng die mense die petrol met parafien en water om dit meer te maak!  This is Africa!  :)














No comments:

Post a Comment